"Laat u koninkryk in en deur ons gemeente kom"
Die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid stig saam met die NG Gemeente Vanderbijlpark-Sentraal af van Vanderbijlpark moeder gemeente op 10 Maart 1966 met 700 lidmate. Ds. AH Malan (Awie) word as die eerste leraar op 1 Mei 1966 beroep. Die eerste eredienste word gehou in die skoolsaal van Hoërskool Transvalia. Later word van Laerskool DF Malherbe se skoolsaal gebruik gemaak.
Op 6 September 1969 word Ds. WF Kloppers (Willie) as tweede leraar beroep.
In 1970 word besluit om twee eredienste te hou. Die Kategese groei tot 800 kinders.
Op 2 Maart 1974 word die gebouekompleks in gebruik geneem wat sowat R330 000 gekos het. Die eerste erediens in die kerk word gelei deur Dr. SJ Eloff.
Op 22 Maart 1975 word Prop. JHG Gous (Henk) as medeleraar beroep en op 22 Maart 1985 vertrek hy na Potchefstroom. Ds. M van Tonder (Mike) word beroep as 4de leraar, nadat ds. Willie Kloppers 'n beroep na Monumentpark ontvang en aanvaar het. Ds. GJ Doyer (Gerrie) word vanaf Gwelo in die destydse Rhodesië, beroep en word ontvang op 2 Desember 1978. Vir die eerste keer het die gemeente nou 3 leraars.
29 Augustus 1979 stig Driehoek gemeente af en beroep Ds. Gerrie Doyer. In die plek van ds. Gerrie Doyer word dr. DA Scholtz (Adelbert) beroep.
Ds. JJ Gildenhuys (Hannes) word op 3 Julie 1981 bevestig nadat ds. Mike van Tonder na Potchefstroom vertek het.
Die eerste koster van die gemeente was Thelma van der Wath, tree af na 13 jaar diens op 31 September 1982. Oom Bronkie Bronkhorst word aangestel as tweede koster en na 14 jaar diens tree hy af in 1997.
Prop HJ Swanepoel (Hennie) word beroep in 1984 nadat ds. Hannes Gildenhuys 'n pos by die SAUK aanvaar het.
Ds. PC Albertyn (Piet) word as negende leraar bevestig na die vertrek van ds. Henk Gous na PUK Kandelaar.
In 1990 word Joey Hattingh aangestel as ons Kassier en Ida Schaaf word in dieselfde jaar as die eerste Jeugwerker aangestel.
In 1990 tref groot hartseer die gemeente toe Annegret en Karin Stoltz (Dr. Scholtz se vrou en dogter) en Nancy en Jacobus Albertyn (Ds. Albertyn se vrou en seun) in 'n motorongeluk sterf.
Amanda Venter word as ons tweede jeugwerker aangestel in 1992 en in Oktober daardie jaar trou sy en ds. Swanepoel.
In Maart 1994 word Iena Connoway aangestel as Kassier en Joey Hattingh word die Skriba.
Prop. HvE Meyer (Henri) word bevestig as leraar met opdrag Jeugwerk in ons gemeente in 1996. leRoi van Niekerk en Christa van Niekerk neem oor by Oom Bronkie as onderskeidelik week- en naweekkoster in 1997.
Ds. GJ Coetzee (Eon) word beroep vanaf Vrede-Wes gemeente in 1999 as tiende leraar van die gemeente. In dieselfde jaar vertrek ds. Meyer na Helikonpark gemeente. In sy plek word prop. RA du Plooy (Rudolph) bevestig met opdrag Jeugwerk.
In die plek van leRoi van Niekerk word Seef Hattingh as faktotum aangestel in 2002 en na 30 jaar diens agter die orrel tree Esté du Plooy af. Sy word vervang met Renate Lenz.
In 2004 word Roelof Stander as ons 3de Jeugwerker aangestel. Hy bly by ons tot in 2005 toe Anja Pienaar (later Burger) aangestel word.
'n Standplaasruiling vind plaas toe ds. Swanepoel omruil met Ds. Stephan van Heerden van Melkbosstrand. Ds. Swanepoel was 21 jaar in ons gemeente.
Op 2 Januarie 2006 word Annie Wassenaar as Kassier aangestel.
In 2008 aanvaar ds. Stephan van Heerden 'n beroep na Bloemfontein-Noord gemeente en in sy plek word prop. Tiaan Mostert na ons gemeente beroep.
ONS DANK DIE HERE VIR 46 JAAR VAN GENADE!
You are viewing the text version of this site.
To view the full version please install the Adobe Flash Player and ensure your web browser has JavaScript enabled.
Need help? check the requirements page.